Gewoontes

Lees Lukas 5:33-39.

“En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed” (v 39).

Die navolging van tradisie is ’n groot seëning. Dit anker jou aan iets wat groter en ouer en sterker is as jy.

Dit is dus ’n voorreg om jou in ’n bepaalde gewoonte of gebruik te verlustig, om mettertyd daarin tuis te kom, om uiteindelik te kan sê: Dit is óns manier dié, dit is my en my mense se eiegoed. Sulke dinge het kloukrag: Jy hou daaraan vas, en dit hou jou vas.

Daarom is verandering nooit sonder meer ’n vreugde nie. Inteendeel: Daar word dikwels gefrons en gemompel en gemurmureer wanneer iemand hardop iets sê oor “vernuwing”. Of uitroep: Ons leef in ánder tye! Of skimp dat jy en jou denke outyds is.

Dis dus geen wonder dat Jesus en sy volgelinge se eet- en drinkgewoontes soveel aanstoot aan die tradisionaliste gegee het nie. Dit was vir hulle vreemd en selfs bedreigend. Hulle skroom nie om daaroor te mor nie.

Jesus se antwoord maak hulle stil, vir eers. Hy vertel hulle ’n gelykenis (nuwe wyn; ou velsakke) waarvan die eenvoudige logika geen teenspraak duld nie.

Toe gee Hy hul suur opmerkings boonop ’n doodskoot deur prontuit te sê hul ontevredenheid het nie ’n teologiese grondslag soos wat hulle wou voorgee nie. Nee, sê Hy, julle klou vas aan sinlose ou opvattings omdat julle verknog geraak het aan die voorspelbaarheid daarvan. Julle is gewoond aan die “ou wyn” en daarom weier julle om daarvan af te sien. Julle maak dus van tradisie ’n wapen om verandering te beveg.

Waarom sou mense so iets wou doen? En dit boonop kerkmense?

Here, Verlosser, bevry my en my mense van ons krampagtigheid.

Barend Vos