God bly betrokke by sy skepping

U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom. Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les. Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke. Uit die hemel laat U dit op die berge reën, die aarde word versadig deur die reën wat U gee. U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee (Psalm 104:10-15).

“Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11). Wat vra ons wanneer ons hierdie bede bid?

Ons vra dat God sal uitdeel. In die eerste deel van die Ons Vader-gebed bely kinders van God dat God se Naam, sy koninkryk en sy wil hulle hoogste prioriteit is. Hulle vertrou God om sy Naam heilig te hou, om sy koninkryk te laat kom en sy wil op aarde te vestig. Ons is egter ook betrokke by wat God doen. Ons heilig sy Naam, ons leef onder sy koningskap en heerskappy en ons doen sy wil op aarde.

Met hierdie bede verskuif ons aandag egter na ons afhanklikheid. Brood is ’n gawe, ’n geskenk. Wanneer ons in totale oorgawe aan God leef, wanneer sy wil ons wil is, weet ons dat elke stukkie brood op die tafel Syne is. Elke beker water is ’n geskenk van God. Ons weet dat ons nie noodwendig ryk gaan wees nie, want ons gee van ons brood weg sodat ander ook kan eet.

Psalm 104 benadruk dat die hele skepping van God afhanklik is. Die Here was en is aktief betrokke by sy skepping. Hy het nie net die aarde en die hemel gemaak nie (104:2, 5-9); Hy is steeds aktief betrokke by die skepping en onderhou dit. Deur beelde te gebruik wat ook in die godsdienstige geskrifte van die Ou Nabye Ooste voorgekom het (soos dat God op die wolke ry en in die wind en weerligstrale is 104:3-4), bevestig die digter sy ervaring van God se betrokkenheid by sy skepping. Die Here het nie die aarde gemaak en dit toe laat staan nie. Hy hou aan om vir sy skepping te sorg.

Doen gerus die moeite om die woord “U” in Psalm 104 te tel. Dit staan verstommend baie kere daar. Só stel die digter dit duidelik dat daar maar een oorsprong, een rede, vir die bestaan en voortbestaan van die aarde is.

Maar so dikwels dink ons die skepping draai om ons, behoort aan ons. Nee, sê die digter, die skepping draai om God. Hans-Joachim Kraus wys pragtig daarop hoe die digter van verskillende beelde gebruik maak om God se betrokkenheid by sy skepping uit te beeld: God is soos ’n pa wat die tentdoek van die hemel span (104:2). God is soos ’n veldgeneraal wat bevele aan die waters uitroep en hulle gehoorsaam Hom (104:7-9). God is soos ’n plaasbestuurder wat sorg dat die waters by die regte plekke uitkom sodat almal versorg kan word (104:10-12). God is so ’n versorgende vader wat sy gawes aan elke lewende wese regverdig uitdeel (104:13-22). Dit alles is ’n teken van God se wonderlike skeppingsmag en wysheid (104:24).

En hierdie God is jou hemelse Vader wat jou van jou daaglikse brood voorsien.

Dankie, hemelse Vader, dat U steeds by u skepping én by my betrokke bly. Dankie dat U vir my sorg. Gebruik my as u hande en u voete om vir ander te gaan sorg. U is ons oorsprong en die rede vir ons bestaan. Ek staan verwonderd voor U en u skeppingsmag. Amen.