God by ons

Lees Johannes 1:10-18.

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (v 14).

Nee, dit is geen Kersverhaal met sterrekykers en herders dié nie, en niemand sing nie. Tog kan Johannes se sober verslag oor die impak wat God met Kersfees op sy kinders se lewe maak nie verkeerd verstaan word nie. Of hoe?

Maar verstaan die Godskinders dit, die gewone mense, dié soos ons vir wie hierdie troosgedig bedoel is? Het hulle hoegenaamd ’n idee wat dit beteken dat Hy, die Woord wat in die begin reeds daar was, mens geword het? ’n God wat mens word? Wat tussen die mense kom woon? Wat God-by-ons word?

Iewers tussen al dié heerlike, verbysterende feite duik ’n tweede vraag op: Is ons by God? Want uit Johannes se verslag van die geskiedenis blyk dit dat die mensgeworde Een nie by sy eerste adres welkom was nie. Sy “eie mense” (v 11) wou Hom nie gehad het nie. Hoe op aarde …?

Maar toe wend Hy Hom tot die ander, en Hy gee húlle die reg om sy susters en broers te word, God se kinders. Genade op genade! juig Johannes.

Sedertdien weet al hierdie begenadigde kinders waar hulle van­daan kom en by wie hulle die reg gekry het om kinders van God genoem te word. Hulle weet dat dié status ’n geskenk is. Soos met alle geskenke moet hulle daarvoor dankie sê, dit oopmaak en dit geniet. En hulle verwonder oor die onberekenbare waarde daarvan om in God se teenwoordigheid te mag lewe. En hulle voorneem dat dankbaarheid voortaan die wagwoord in hul lewe sal wees.

Dankie, Here, vir genade op genade. Wys my elke dag hoe die dankbaarheid lyk wat by só ’n geskenk pas.

– Barend Vos