God se krag

Lees 1 Korintiërs 2:1-11.

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig … deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof … gegrond … op die krag van God (v 4-5).

Paulus sê sy boodskap is eenvoudig: Hy praat oor Jesus die Gekruisigde. Hy doen dit wel met angs en huiwering, bewus van sy tekortkomings. Maar, sê hy, hy weet dat die oortuigingskrag daarvan nie in geleerdheid of welsprekendheid geleë is nie, maar in die werking van die Gees. Die waarheid oor God (v 1) word dus met die krag van God (v 5) in mense se lewe tuisgebring.

Hoe maklik is dit nie om God se werk in hierdie hele proses raak te sien nie! Ja, God se waarheid mag geheimenisvol wees (v 1), maar die wyse waarop dit in mense se lewe ’n werklikheid word, is glashelder. Dit gebeur deur God se krag. Deur die kragtige werking van sy Gees.

Eenvoudig, nie waar nie? Almal kan dit begryp, of hoe?

Toe nié. Nie solank daar mense is, gelowiges, wat hul geloof aan hulleself toeskryf en dit uit eie krag bedryf nie.

Dit is jammer dat dit so is. Want as ons gees eerlik met ons is – beter gestel: as ons onbevange luister na wat ons gees aan ons sê – sal ons mos weet dat so ’n geloof-uit-eie-krag altyd die kiem van kortsluiting met hom saamdra. Die geringste afwyking van ons geesdrif bring ’n abrupte einde aan daardie geloof. Die oomblik dat ons ná tye van geestelike ekstase tot rus kom, begin die twyfel aan so ’n geloof vreet.

Nee, geloof wat op eie krag gebou is, ly aan twee noodlottige tekortkomings: aan krag en aan geloof. Goddank, dan, vir sý krag, en vir die geloof wat dit in my wek.

Ek glo, Here! Kom asseblief my ongeloof te hulp.

Barend Vos