God se stem

Lees 1 Samuel 3:1-10.

Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor … (v 1).

Samuel het sy kleintyd in die kerk deurgebring. Só vertel die Bybel­skrywer ons. Sy mentor – nie onverwags nie – was die ou priester daar, ene Eli. Maar, sug die skrywer, die Here se stem is in daardie tyd maar selde gehoor.

Dit is seker dié dat die ou priester niks vermoed het toe die seun na hom gehardloop kom met die storie oor ’n stem wat na hom geroep het nie. Selfs nie die tweede keer nie. Eers ná die derde roep­slag lui daar ’n klokkie by die tempeldienaar en kan hy die regte raad aan die seun gee.

Tog vreemd dat die man wat van beter moes geweet het so horende doof was. Die skrywer verklap wel dat die ou man se oë swak geword het, maar klaarblyklik was die sig in sy geestesoë ook maar erg aangetas …

Die vraag is: Hoe gebeur dit dat God se stem skaars word, en feitlik onherkenbaar is wanneer dit wel (in die plek waar Hy aanbid word!) gehoor word? Is dit die priester se skuld? Is dit as gevolg van die manier waarop hy en sy kinders God se genadegawes mis­bruik het?

Die verhaal sê: Ja, dit is so. In hoofstuk 2 word God se oordeel oor Eli en sy huis uiteengesit, en die openbaring aan klein Samuel sou dit bevestig.

Sal dit dan vandag steeds so wees dat God se oordeel nie by die sogenaamde heidene en godloënaars begin nie, maar by die kerk se mense? By hulle wat van beter moet weet? Wat lankal moes agtergekom het dat God se stem stil geword het, ook daar waar hulle Hom aanbid?

Here, U moet tog nooit ophou om met u kerk te praat nie. Skud ons wakker, laat ons luister!

– Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: