Grootmonde met vlytige vingers

Lees Psalm 12.

“In ons tong lê ons krag. Ons lippe help ons. Ons buig vir niemand nie.” Maar die Here sê: … “Daarom gryp Ek nou in” (v 5-6).

Ons ken hulle en ons ken onsself: alte spraaksaam, tog te slim. Vol woorde oor alles en nog wat. En, veral, oor al wat leef en beef.

Die psalmdigter se woede oor mense wat op hul gladde mond roem, is juis vir ons, baiepraters in hierdie eeu, niks vreemds nie. Ons ken hulle mos ook, en ons ken onsself …

Wat anders aan die huidige tyd is, is dat daar intussen iets meer tot ons arsenaal bygevoeg is: Ons beskik nou nie slegs oor ’n gladde mond nie; daar het ook vlytige foonvingers bygekom. Nou praat ons éérs! Oor alles en nog wat. En, veral, oor al wat leef en beef.

Dit is niks minder nie as gemeen, sê die digter (v 9). En ons weet hy is reg. Al speel ons graag die onskuldige slagoffer en kla steen en been oor grootmonde wat ons te na gekom het, wat ons gevlei het nét om ons knap daarna te ondermyn, kan ons onsself nie regtig verontskuldig nie.

Nee, daarvoor doen ons gans te fluks mee aan die sonde om ander mense se lewe met ons woorde te versuur. Ons skinder lekker saam, ons smeer heuning om ander se mond ten einde ons eie, selfsugtige doel te bereik. Ons praat te vinnig en te veel en te vuil.

Ons loop dus die wesenlike gevaar dat die Here ook by ons sal ingryp. Dat Hy iewers tussen ons baie woorde deur sal gryp na ons met die groot, gladde mond en die besmeerde vingers. Voordat ons verdere skade aanrig.

Bewaar my, Here, van die sonde van maklike woorde. Bewaar my van wat ander aan my doen, en wat ek aan hulle doen.

Barend Vos