Gryse kinders van God

Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God (Ps 71:18).

Die gedagte aan die dood hoef ons nie wanhopig of sinies te maak nie. Die oomblik wanneer ’n mens gebore word, begin jy reeds verouder; jy kan selfs sê, begin jy sterf.

Ons almal ervaar dit: Die tinteling van die kinderjare gaan oor in die krag van die jeug en dan in die volle lewe van volwassenheid. En voor ons dit behoorlik besef … in die aftakeling van die ouderdom. ’n Psalmdigter van ouds wat skynbaar self die laaste fase van die lewe betree het, het hierdie versugting uitgespreek: “Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie. Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God” (Ps 71:9, 18).

Maar God doen dit nie! Hy is by ons in elke fase van die lewe. Die ouderdom en die verouderingsproses moet ons nie moedeloos laat nie. Die gedagte aan die dood hoef ons nie benoud en bang te maak nie. Want ons bely die opstanding van die liggaam! Wat ’n magtige en troosryke waarheid!

Grys hare en min kragte is ’n werklikheid. Maar die opstanding van die vlees is ’n groter waarheid.

Here, ek is u kind. Maak my volwasse in my geloof. Amen.

Johan Cilliers