Halleluja-taal

Lees Psalm 149.

Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars (v 1).

Here, hoe moeilik verstaan ons dat “halleluja” nie
’n taal is waarmee ons gebore word nie. Wat nie
vanself by ons mond begin uitborrel en nie sonder
meer deel van ons woordeskat word nie. En dalk
nooit in ons spreektaal ingeburger sal wees nie.

Nee, ons moet dit aanleer. Elke keer van voor af.
Soos kinders wat telkens voorgesê word om tog
“asseblief” en veral “dankie” te sê en wat gereeld
gemaan moet word om rondom hulle te kyk en dié
raak te sien wat veel minder as hulle ontvang het.

Ek weet maar te goed, Here, dat “halleluja!” soms
uitgeryg word asof dit uit die mode sal raak en dat
juis kerkmense daarin uitblink om heilige oomblikke
met ’n “prys die Heer!” te merk. Uit gewoonte en
bygelowigheid. Dalk oor dié binne hoorafstand …

Ja, Here, dié mense- en engeletale wat ons so flink
bemeester het en wat soveel bewondering uitlok,
sit só vlak dat die geringste dwarswind elke woord
wegwaai en ’n vlugtige skaduwee elke triomfantelike
uitdrukking verduister. Elke terugslag slaan ons stom.

Daarom moet U ons dit tog afleer, Here;
dié goedkoop lof. En ons weer toelaat tot u kategeseklas.
Hiér sal ons ’n nuwe lied aanleer. Een wat lewenslank
by ons sal bly; tot u eer sal wees. En nie om ons eie,
bejammerenswaardige gewete se skuldige ontwil nie.

Dan sal ons, Here, die nuwe lied sing wat U ons voorsê.
Dalk met minder tromgeroffel en miskien meer eerbied.

Suiwer dus ons hart van aangeplakte vrolikheid
en ’n gedagtelose gedruis. Leer ons opnuut
die loftaal wat U behaag en verheerlik:
Die halleluja uit die hart
van kinders wat hul Vader eer.
Amen.

Barend Vos