Home » Februarie » Hawe vir haweloses

Hawe vir haweloses

Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe (1 Pet 2:25).

Die gemeenskap van die heiliges moet so anders wees as dié van die wêreld, so aantreklik, dat mense, veral verstote en eensame mense, daar ’n ware tuiste kan vind. Die kerk is ’n hawe vir haweloses, ’n plek waar skape wat rondgedwaal het, kan terugkom na die Herder en Bewaker van hulle lewe (1 Pet 2:25).

In sy boekie Ik zag een kerk verduidelik die Nederlandse predikant JC Gilhuis hierdie vreemde titel: Op ’n Maandagoggend kom klop ’n boemelaar aan sy voordeur met ’n lang verhaal van ontberings en nood. Gilhuis se geduld begin later opraak. “Hoekom het jy nou juis by hierdie deur kom klop?” onderbreek hy vies die lang relaas. Waarop die bedelaar antwoord: “Ek het ’n kerk gesien …” – bedoelende die kerk reg langs die pastorie van dominee Gilhuis. Toe, sê Gilhuis, het hy weer besef waarvoor die kerk daar is … en hy as lid van die kerk.

Boemelaars kan baie lastig wees. Ook Christene se geduld met hulle kan opraak. Argumente waarom ons nie die man of die vrou voor ons deur of op die sypaadjie of by die parkeerterrein moet help nie, het ons oorgenoeg. En tog het sulke mense die “reg” om by gelowiges, die kerk, aan te klop; die “reg” om juis by ons om brood te vra.

Meestal vra hierdie randfigure van die lewe meer as brood. Eerder soek hulle ’n bietjie erkenning, ’n stukkie menswaardigheid, ’n vonkie warmte. Onthou dit wanneer jy weer jou deur oopmaak en hy of sy in vodde voor jou staan …

Mense het die “reg” om by die kerk om hulp aan te klop.

Here, maak my ’n aantreklike Christen met deernis vir ander se nood. Amen.

Johan Cilliers