Heilige, handelende God

Lees Psalm 147:12-20.

Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, jou inwoners geseën (v 13).

In ’n tyd soos dié, Here, is die versekering
dat U ons beskerm onontbeerlik.
U moet tog herhaaldelik sê dat U ons oppas
en ons behoorlik beveilig. Dat U mure om ons bou
en snags sorg dat al die grendels dig sluit.
Dat die donker en sy bose trawante uitgehou
word deur u besliste hand en dat geen lig
ons ooit só verblind dat ons mislei sal word nie.

U dra tog die natuur in die hande
waarmee U dit gemaak het.
En wanneer U u vingers oopsprei,
word die vrug van u arbeid oraloor gestrooi.
Mense hou hul asem op.
Hul oë rek groot oop
en hulle vertel in ’n klein stemmetjie
hoe groot U is en wat U alles skep en doen en uitdeel.
Tot seën vir die nasies, tot heil van u kinders.
Tot eer van u Naam: heilige, handelende God.

Doen dan aan ons soos U goeddink:
Gee soos u hand dit vind om te gee.
Help met wat U weet ons nodig het.
Troos op die manier waarop net U kan.
Skep in ons die vaste gees wat U verlang.

En vernietig die selfsug en eiebelang
wat ons tog só beheer.
Druk ons dit op die hart om na ander om te sien.

Maar bowenal, Here, in ’n tyd soos dié
moet U ons seën en ons beskerm.
Moet U tot ons redding verskyn
en ons genadig wees.
Moet U ons gebede verhoor
en aan ons u vrede gee.
Amen.

Barend Vos