Lees Psalm 141:1-4.
Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê (v 3).
Hierdie grootmondkind van U het al weer
te veel gesê. Te gou, en op die verkeerde
plek. Wanneer sal ek tog eendag léér, Here!
U weet ek is die eerste een wat kla oor mense
en hul onversigtige uitlatings en krenkende
woorde. Dié wat argeloos omgaan met hul
mond en heimlik trots is op die beskrywing
dat hulle hul hart op hul tong dra –
ongeag hoeveel harte hulle daarmee breek.
Hoe dikwels was ek nie die slagoffer van hul
praatjies nie; die goedkoop diagnoses
wat hulle links en regs uitdeel. Ongevraagde
raad, kwalik bedekte beskuldigings en vroom
voorskrifte. En nou doen ek presies dieselfde.
Ek bevind my weer in die bedenklike geselskap
van diegene wat goedsmoeds oordeel en vol
lekkerkry ’n ander se leed uitbasuin. Ek is reeds
weer ingesuig in die dampkring van dié allesweters
wat met hul ingeligtheid te koop loop – vir ander
om hulle te bewonder. Ek is nou een van “hulle”.
Help my tog dat ek my gedagtes na ’n ander plek
verskuif en my mond oor ander mense se doen
en late hou. Laat my die skerp woorde, die bitter
aanmerkings terugsluk, Here. Druk dit in my
keel af, al is dit erg ongemaklik. Laat my onthou
hoeveel pyn ek deur ander se vry-sê moes verduur
en watter skade dit aan my binneste gedoen het.
Laat dan só my voorneme geluk, Here,
om die wag voor my mond my beste
vriend te maak. En my vernaamste
prioriteit om hom op en wakker te hou.
Tot u eer. Tot beskerming van my naaste.
En myself.
Amen.
Barend Vos