Helper

Lees Psalm 54.

Hulle hou geen rekening met God nie. Maar vir my help God altyd (v 5-6).

Dit is elke Godskind se diepste troos dat God help. Dat dit inder­daad sy Naam is – Helper.

Hulle het ook ’n verdere troos: dat hul teenstanders Hom by hul berekenings uitgesluit het. Hulle ken Hom nie, hulle het geen idee hoe magtig Hy is nie, hulle weet veral nie dat Hy belowe het om sy kinders te beskerm nie. Hulle weet nie van sy bewese rekord in dié verband nie.

As die ellendelinge maar iéts van hierdie Helper geweet het, sou hulle versigtiger gewees het toe hulle sy kinders se spoor gevat en hulle gejag het. Toe hulle uiteindelik hul prooi in hul visier gekry het. Hulle sou twee keer gedink het voordat hulle op die hulpeloses losgebrand het.

Want God, ons Helper, haas Hom na sy beleërde kinders toe, neem hulle in sy arms en sê: Toemaar, toemaar, Ek is hier!

Dan wend Hy Hom tot hulle, die bose jagters. Hy verjaag hulle; Hy laat hulle goed verstaan dat hulle te ver gegaan het toe hulle hulle aan sy kinders vergryp het.

Hy is God, en almal wat met Hom te doen kry, moet hul plek voor Hom ken. As jy nie voor Hom wil kniel nie, moet jy liefs padgee. As jy nie sy kinders wil respekteer nie, moet jy minstens jou vuil hande van hulle af hou.

Hy staan gereeld met uitasem skepseltjies in sy arms, sy eiendom. Hy weet hoe moeg hulle is, hoe emosioneel gedreineer deur die angs wat hulle moes deurmaak. Dan sê Hy: Kom ons gaan huis toe, my kinders. Kom, Ek het daar vir julle brood en wyn, oorgenoeg.

Ons lewe, omdat U ons laat lewe. U versadig ons met u goedheid, elke dag.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: