Hemelhoë vroomheid

Lees Psalm 139:19-22.

Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree (v 20).

Grote God, hoe is dit dan dat U die boosdoeners nog
voor u oë verdra en hulle nie lankal van die aarde af
weggevee het nie? Sommerso met u linkerhand? Één
Goddelike asemstoot sou genoeg wees; ’n enkele kyk.

Dit is die skromelose valsheid wat my teen die bors stuit,
Here. Die Here-Here!-geskree wanneer daar in angstige
gretigheid bo-oor ander geklouter word om die morele
hoë grond te bereik – en van daar neer te sien op die res.
Dit is die handewas-onskuld; simpatie wat soos ’n aalmoes
uitgedeel word. Skouerophalende medelye. Gebede vol
vernaamheid, hemelhoë vroomheid en moeë, leë frases.

Nooit gebruik hulle u Naam as vloekwoord nie;
hulle spreek hulle welluidend oor godloënaars uit
en verafsku elke oortreder van u gebooie.
Hulle bespeur die fynste splinter in ander se oë
en laat nie ’n oomblik verbygaan om dit op te haal
en uit te stal nie. Hulle benoem sonde in besonderhede
en giet bekers vol oordeel daarop uit. Met hul soort
heilige ongeduld blus hulle alle huiwerende vrae
en blaffend en grommend verwilder hulle elke twyfelaar.

Hulle weet haarfyn hoe om u Naam in te span om die meeste
voordeel daaruit te trek. U ken mos daardie “vaardigheid”,
Here – die vermoë om bewondering en eerbetoning, en alle
denkbare gunste en elke moontlike gawe “in Gods Naam!”
in te palm. Ja, “Here” het vir hulle ’n versamelnaam geword.

Maar net soms glip die masker effens
en ontbloot ’n boosheid
wat u kruppel kinders met ’n glimlag nader
en met tipiese deernis
’n dolk sekuur in hul kale rug druk.
Amen.

Barend Vos