Here, Redder …

Lees Ester 7:1-6, 9-10.

 “Ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word” (v 4).

Dit lyk soms asof die Here se kinders gereeld aan die verkeerde kant van bose mense en hul onderduimse planne is. Kyk maar na die verhaal van Ester, en Haman die ellendeling.

Of word hierdie “bose teenstand”-verhale bloot opgediep en versamel en deur die jare herhaaldelik oorvertel om ons, die Here se kinders wat dit lees of aanhoor, daaraan te herinner dat God red? Dat Hy Hom in die geskiedenis keer op keer bewys het as die Ingryper-by-uitstek in sulke stories? Sodat hulle, die opnuut beleërde en verskrikte kinders, kan weet dat Hy Hom nog altyd by die geskiedenis ingelaat en die verhaal van sy kinders beslissend beïnvloed en dikwels omgekeer het?

Gelukkig weet gelowiges dat dié Goddelike ingryping gereeld plaasvind. Daar is dikwels sulke stories in omloop. Dit raak klein mensies in hul beskeie hoekies. Gewone gesinne wat ’n wonderlike verhaal vir hul kinders kan vertel. Vra maar vir Rut en Boas en ouma Naomi.

Daar is ook dié wat in paleise en in belangrike vergaderings afspeel en wat die lewe van derduisende mense ten goede beïn­vloed. Wanneer koningin Ester later hierop sou terugkyk, sou sy die verbysterende ommekeer in haar mense se droewige lot raak­sien. Dit sou elke jaar daarna op die feeste van haar volk dankbaar oorvertel word.

Toe haar vertroueling Mordegai al die gebeure uiteindelik neer­skryf (Est 9:20), sou dit vir boeiende leesstof sorg. Verdruktes en beangstes deur die eeue sou hierdie verhaal aangryp. En hul kin­ders leer: God is groot, en Hy is goed!

Here, Redder, groot en magtig, U het my ook raakgesien!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: