Here van die vroegoggend

Lees Psalm 108.

Want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke (v 5).

Ook vir my is vroegoggend die beste tyd
om U raak te sien, Here. Al lê die dag
ook onbekend en dikwels onbemind
voor my uitgestrek, kom u teenwoordigheid
glimlaggend, douvars na my toe aan.

Goeiemôre, liewe Here! sê ek dan en strek my uit.

U wil weet of ek lekker geslaap het?

Ek hét, Here, die wakkerlê-tye ten spyt.
Ek het lekker geslaap, ja, dankie, Vader.
Gerus, omdat U nooit sluimer of slaap nie.
Nou lê die dag voor – en as ek eerlik moet wees,
is dit die rede vir die wakkerlê. U weet dit tog, Here;
U het my sagte middernagtelike noodkrete gehoor.
Nou, in die nuwe lig, roep ek dit hardop uit
teenoor U, o Troue Liefde:
Red my van my moedeloosheid, Here!
Gryp my in u regterhand vas
en hou my digby u hart.
Laat my my ore spits vir u planne.
Laat my my oë oophou vir u strategie.
Laat my nie ’n oomblik twyfel
aan die doelgerigtheid waarmee U u kinders lei nie.

Terwyl ek steeds nie herwaarts of derwaarts weet nie,
val U solank in die pad – omdat U dit ken.
Trap U die spoor. Draai U dikwels op daardie spoor
om en kom haal my, u huiwerige, bangerige kind.
Word ek dan tree vir tree sterker in u arms,
dapperder. Sien ek vir al meer kans. Selfs al moet ons
oor ’n muur klim of al kom daar ’n bende aangesluip.

U, die Here van die vroegoggend,
dra my van vroeg tot laat. Donkeraand
lê U my saggies neer, en waak as ek slaap
tot die nuwe môre kom.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: