Hierdie lewe

Lees 2 Korintiërs 4:8-12.

Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam (v 10).

Hierdie lewe is nie ’n egalige, voorspelbare rit nie. Dit is nie die probleemvrye paradys wat ons mekaar tydens verjaardae toewens nie. Bowendien, en dit sê ons gewoonlik nié, het elke paradys sy slang.

Hierdie lewe is God se geskenk aan ons. Hy wou dit gee. Dit kom ons nie toe nie, dit skuld ons niks en daar is niks vanself­sprekends daaraan nie. Ons moet dit vat soos ons dit kry, en op die beste hoop.

Goddank, ons hét toe die beste gekry. Lankal. Van die begin af, om die waarheid te sê. Hy, Jesus, het vir ons die Beste geword. En Hy maak die onvoorspelbare, stamperige en soms uitmergelende rit wat ons “hierdie lewe” noem, leefbaar. Selfs genotvol.

Want Hy het raad vir ons radeloosheid, Hy maak ’n plan wan­neer ons planloos betrap word. Hy weet baie goed van die letsels wat ons in ons liggaam dra – dit is immers Syne.

Dit is in ons lewe dat sy lewe sigbaar word, skryf Paulus. Buite­standers sal vra: Waar is dié Jesus? En ons sal wys: Hier is Hy. Hier by my. Kyk die deurboorde hande waarmee Hy my elke dag dra. Kyk in die sagte oë waarmee Hy na my kyk.

Ons sal sê: Ek lewe, want Hy lewe. Die dood raas en blaas, maar Jesus het dit oorwin. Hy het opgestaan, en ek sal ook. Hy sal my nooit los nie. Hy maak my donkerste nag ’n helder dag. Kyk maar!

U het wat die heel ergste is, oorwin. U maak my, gewoonteverloorder, ook ’n wenner.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: