Hindernisse

Lees Handelinge 8:26-40.

“Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” (v 36).

Dit is die einste Filippus vir wie Jesus gesê het Hy en sy Vader is een, wat nou aangesê word om na ’n spesifieke stil pad te gaan en daar ’n man op ’n wa in te wag. En beveel word om langs die wa met die vreemde man daarop te gaan loop.

Vreemde man, inderdaad. Eintlik nie ’n man nie, maar ’n ont­mande. Maar Filippus, ’n Jood, wat goed weet dat ontmandes nie in die gemeente toegelaat word nie (Deut 23:1), gaan loop langs die wa soos die Gees hom beveel het. Dáár hoor hy hoe hierdie mens uit die profeet Jesaja lees. En synde ’n Jesusvolgeling vra Filippus hom: “Verstaan u wat u lees?” (v 30).

Lang storie kort: Uiteindelik sit Filippus langs hierdie ontman­de Etiopiër en verkondig die evangelie aan hom. In die sinagoge mag hy nie naby Filippus kom nie, maar op die wa sit hulle byme­kaar. Die wette sê só; die evangelie sê anders.

Die toets vir Filippus om hierdie teenstrydigheid te verstaan, lê toe in ’n stroompie water. Sou hy, die Jesusnavolger, die gevolge van dit alles begryp? Sou hy die ontmande Etiopiër toelaat om deel van God se gemeente te word?

Wat verhinder my om gedoop te word? vra die ontmande. Wat­ter wet? Watter mens? Is God se genadewater ook vir mý, die ver­minkte, genoeg?

Dit blyk dat die apostel nie twee maal gedink het nie. Die wa het stilgehou, en Filippus het daardie Godskind tot by Jesus se oop arms gebring.

Here, elke hindernis op die pad na U het in die stof gebyt. Die wet is lankal dood; u evangelie geld tot in ewigheid.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: