Hoe verstaan ek dít?

Lees weer Psalm 8.

U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (v 6).

Met groot respek, Here: Hoe dink U tog?
U beplan groot; U maak hemelliggame.
U gee hulle plek; U voorsien ruim.
U huisves niks minder nie as die kosmos in u gedagtes.
En nóg, en oneindig meer …
En iewers in u agterkop het U boonop
vir my.

Hoe moet ek dit verstaan? Wat moet ek daarmee maak?
Vir wie vra ek na die betekenis, en waar gaan soek ek die doel?

Dalk sal ’n kind my kan antwoord
en sê die son het hom gesê.
Of die maan het hom in sy vertroue geneem.
Die sterre het die antwoord gefluister.
Of, giggelrig: “Die engele het geklik!”

’n Mens moet seker maar hieroor glimlag, Here.
Wat help dit jy probeer somme maak
en Goddelike motiewe ontleed?
Om keer op keer weer by dieselfde vraag te eindig:
Wat is die mens dan dat U aan hóm dink?
Wat gaan deur u gedagtes as U my sien, Here?
Hoe moet ek oor my plek voor U oordeel?
Hoe loop die kontoere van u Groter Plan?
Waar lê die grens van u drome?
En waar pas ék in?

Dit alles, moet U tog weet, is te hoog vir my.
Ek probeer dit raakvat, maar my voete bly op die grond.
Ek strek my uit na wat bó is, maar my hande vat te vlak.
Ek breek my kop hieroor … en bly lê met ’n skerfie verstand.

Daarom sê ek maar voorlopig: Dankie, Here!
Dankie vir die skape en die beeste. Dankie vir die voëls
en die ander wilde diere. Dankie vir die visse.
Ek sal mooi na hulle kyk
en ééndag sal ek hopelik verstaan.
Amen.

Barend Vos