Hou my vas!

Lees Psalm 138.

Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie (v 8).

Hy het ons gemaak, Hy moet ons tog nie laat staan nie.

Dit is alle Godskinders se versugting. Selfs hulle wat dikwels ’n eie koers kies, hul ore toedruk vir sy stem, of wat sommer sonder omkyk bloot wegloop. Ons almal ken dié uitroep: Moet my nie los nie, Here! Net nie nou nie!

Al het ons Hom gelos, moet Hy tog maar bly vasklou, want ons sal nie weet hoe en wat en wanneer nie. Ons sal beslis nie weet hoe om uit die gemors te kom waarin ons beland of wat ons self geskep het nie. Ja, Hy moet kom help, en asseblief tog ook vergewe, want ons weet nie wat ons doen nie.

Dié psalmdigter skep moed wanneer hy opnuut ontdek dat God vir die nederige omgee, want hy weet dat hy heelwat het om oor nederig te wees. Hy het lankal agtergekom dat hy nie self sal reg­kom nie, dat hy gereeld maar moet roep. Dat die nuwe krag wat hy so nodig het nie by vriende of in selfhelpboeke of selfs in ’n rustige vakansie te vind is nie. Net die Hoorder van sy hulproepe het genoeg krag om daarvan aan sy kinders af te staan. En genoeg liefde om dit te wil doen, ten spyte van daardie kinders se oormoe­digheid en ondankbaarheid.

Hierdie man se vaste geloof is dié eenvoudige belydenis, wat aandagtige Bybellesers ook by Paulus sou ontdek: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop” (v 8).

Hy, die Een aan wie se liefde daar geen einde is nie, sal aan my kleingeloof en ander onsinnighede ’n einde maak. My paaie gelyk maak, my gemors opruim.

Here, u merkwaardige liefde is my alibi wanneer twyfel kom knaag. Ek loof U!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: