Hy weet

Lees 1 Samuel 1:4-20.

“Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het” (v 16).

Almal weet hoe die storie later verloop het: Samuel die seuntjie in die tempel; Samuel die priester vir sy volk; Samuel die leier, wat uiteindelik die eerste Israelitiese koning sou salf. Maar wie kan onthou waar dit alles begin het?

Wie onthou dat sy ma hom van die Here afgesmeek het? Dat ou priester Eli haar probeer afluister het terwyl sy gebid, gesoebat het? Dat hy haar weggejaag het omdat hy gedink het sy is dronk?

Nee, het Hanna hom mos geantwoord, “ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is” (v 15). Sy het maar net haar hart teen­oor die Here uitgestort, sê sy.

So het dit alles begin. Só begin vele verhale wat oor die Here se voorsienigheid handel: Daar is die diepe behoefte, die begeerte na vervulling. Daar is die mooi-vra, wat soms baie lank duur omdat dit ’n lang, seer storie is. Iewers is daar iemand wat van beter behoort te weet, maar wat glad nie verstaan nie en dan die een of ander onvanpaste opmerking maak.

Maar altyd is daar God, die Een wat alles gehoor het wat Hy alles reeds weet. Die Een wat as Hoorder van gebede geken word, as Gewer van goeie gawes. Sy kinders het Hom op dié Name geleer ken, omdat Hy dit alles vir hulle is, en veel meer.

Omdat Hy so anders is as die ampsdraers in sy kerk. Hy oordeel nie. Hy is nie by voorbaat agterdogtig nie. Hy ken ’n seer hart as Hy een sien. En Hy weet wat om daarmee te maak.

U ken ook vir my, Here. U ken my baie woorde én my lang stiltes. U weet alles.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: