Lees Markus 12:41-44.
“Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi” (v 44).
Die teenstelling kon nie groter wees nie: die baie ryk mense met hul baie geld vir die offergawekis, die arm weduwee met die twee muntstukkies. “Iets” teenoor “alles”. Wie weet of sy nog ’n huis het? Onthou jy daardie skrifgeleerdes wat so inpalm …?
Maar sy het geld vir God se saak. En dit, hierdie episode by die tempel, open weer ’n ou-ou argument: Hoeveel moet ek vir die Here se saak gee? ’n Tiende? Maar hoe bereken jy dit – voor of ná aftrekkings? Daar is diegene wat sê jy moet gee totdat dit seermaak. Vir wie moet dit seermaak, ook dié vir wie jy moet sorg?
Praat ons nou net oor geld? Wat van tyd en energie en ons ander besittings … en ons kruisement en anys en koljander?
Nee, nee. Die Here vra nie ons bydraes nie. Hy het dit nie nodig nie. Hy vra wel onsself. Nie dat Hy óns nodig het nie, maar Hy weet dat ons Hom nodiger het as brood of onderdak, om deur Hom geken en liefgehê en versorg en gekoester te word.
Maar wat vra Hy hiérvoor van ons? Wat skuld ons Hom?
Niks. Dit is klaar betaal. Ons kon nie, Jesus het. Hy het alles gegee, Hy het Homself gegee. En dit het Hom veel meer as net seergemaak …
Die Here vra dalk bloot ’n dankie. Dat ons vir Hom sal sê “Vader”. Dat ons Hom sal ken as Voorsiener. En dat ons by Hom sal leer hoe om aan ander behoeftiges te voorsien. Dit is mos waarvoor die offergawekis daar is.
Ek is skatryk, Here! U voorsien elke dag. Gee my ook sagte oë en ’n sagte hart, soos wat U het.
Barend Vos