In hierdie onstuimige wêreld

Lees Psalm 93.

Die Here is Koning, Hy beklee Hom met majesteit. Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag. Die wêreld staan vas, dit wankel nie (v 1).

Here, daar kom soms woeste tye
waarin hoogte- en laagtepunte
mekaar verwoed afwissel. Dikwels beleef ons
dan in een mal week méér as in die hele vorige jaar.

Dan is dit goed om te weet dat U daar is –
in die dol dae, onverstoorbaar, min gepla
deur dinge wat in elk geval binne u beheer is.

Ja, wanneer ons die kluts kwyt raak
en ons selfbeheersing verloor,
dan is U u kalm, rustige self.
U sê bloot: Stil maar, wag maar,
dit sal ook verbygaan …

U laat U nie deur ’n geharwar intimideer nie.
U word nie aangejaag deur ons paniekerigheid nie.
U laat nie toe dat die golwe oor U breek nie.
U is die bestendigheid self; ons enigste vaste punt.

Om U draai die wêreld; U is sy as.
Die golwe staan op as U hulle só beveel.
Die skuim waai wild wanneer U daaroor blaas.
U woel die waters tot ’n woedende kookpot om.
Onder op die bodem kap U die klippe teen mekaar.

Oplaas raak die gedruis stil wanneer U sonder ophef
u hand geruisloos lig, en alles weer terugtrek na waar
dit vroeër was. Dit word weer kalm wanneer U dit so
wil hê, spieëlglad en stil. Waters waar daar vrede is.

In hierdie onstuimige wêreld het U, die Ewige,
vir ons ’n tyddeelplekkie gegee om te woel
en te werk, te speel en te koes, te sing en te bid.

U, hoog verhewe, se sagte teenwoordigheid hier
maak dit ’n veilige hawe,
ons plotjie heilige grond.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: