Intrekker

Lees Psalm 132:13-18.

“Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, dit is my begeerte” (v 14).

Die bevestiging kom: Nog nooit sal die Here sy beloftes vergeet nie. Hy het reeds gekies en Hy sal nie op sy woord teruggaan nie. Daarom hoef die priesters hulle nie te bekommer en die konink­likes geen slaap te verloor nie. Die Here hou altyd sy woord.

Moenie verder twyfel nie: Sion is die plek van sy hart. Hier het Hy ingetrek en hier sal Hy bly.

Daarom kan onder andere die armes hulle solank gereed maak – die Here het spesiale planne met hulle: kos in oorvloed.

Dit alles, hierdie allertroostende nuus, is in die pelgrims se lied opgeneem. Hulle sal dit sing en sing namate hulle Jerusalem nader. Die boosdoeners wat langs die pad hul kans afwag, sal dit hoor en op die vlug slaan en eers later terugkeer om ’n sagter prooi te probeer pak.

Want die mense wat hier aankom, sing ’n lied wat die Bose be­dreig. Wat magteloosheid aan die vyand beloof en beskerming aan die Here se mense.

Die Beloftemaker is die God van Dawid en sy tuiste is die stad van Dawid. Hy woon nêrens anders nie as daar waar sy mense se hart klop. Hy bly tussen hulle.

En ons, die Dawidkinders deur die eeue, verlekker ons in hierdie lied. Ons kan dit uit volle bors beaam. Want dit leer ons van ’n persoonlike God se noukeurige sorg vir sy kinders. Van sy tuiste by hulle, binne roepafstand, net ’n handuitsteek ver.

Ons “dankie” vir u omvattende sorg is maar klein en eenvoudig, Here. Maar dit kom uit ons hart, sal U goed weet. U het immers lankal reeds hiér ook u intrek geneem.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: