Is dit iets wat ék gedoen het?

Lees weer Psalm 22:1-12a.

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (v 2).

Here, ek is sekerlik nie die eerste een
wat na U roep en geen antwoord kry nie.
Ek sal waarskynlik ook nie die laaste wees nie.
Dit is net vir my bitter sleg dat U my nie hoor nie.
Veral nou.
Juis hiér.

My voorouers het dan so baie te sê gehad
oor U wat na hulle geluister het; ingegryp het.
U wat gesorg het dat hulle lewend anderkant uitkom.
Hul geskiedenis staan vol geskryf van u troue sorg.

Maar nou, lyk dit my, is daardie draad geknip.
Is dit dan iets wat ék gedoen het, Here?

Die hele wêreld dink in elk geval so:
Ek kry die skuld vir u swye.
Ek word van alle kante uitgelag.
Die mense loop by my verby en ek kan sommer sien
dat hulle groot plesier aan my nood het.
Dit wys en beduie en maak grappe.
Hulle dink ek weet nie dat hulle eintlik vir U bespot nie.
Het U dit geweet?

U wat die lewe aan my geskenk het
en my van voor my geboorte af besit;
U moet tog weet dat hierdie kind van U dit bitter het.
Dat ek swaar dra aan die venyn. Ek loop krom onder al die aanslae.
Moeisaam sleep ek my dag ná dag voort te midde van die leedvermaak.

Hulle maak glo planne oor alles wat hulle gaan doen
as ek uit die weg geruim en hulle van my ontslae is.

Vir my is daar dus niks meer oor nie.
My ouers het darem vir U gehad.
En húl ouers was vol goeie stories oor U.
Maar deesdae swyg U.
En ook ek het nou niks meer te sê nie.
Amen.

Barend Vos