Juig, al wat leef!

Lees Psalm 100.

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam (v 4).

Juig voor die Heer!
Kom staan voor Hom met ’n lyf vol lag –
ingehoue lekkerte én uitbundige skatering.
Hý is die Here!
Die vrolike God is óns God;
sy vreugde is ons behoud,
sy blydskap ons alibi vir die lewe.
Ronduit erken ons Hom
as ons maker, ons eienaar.
Hy was uit die staanspoor bly oor ons.
Toe Hy ons sien, die vrug
van sy arbeid, het Hy gesê:
“Hulle is na mý beeld gemaak!”
En dit was goed.

U, Here, is ons goeie herder
wat ons na verkwikking lei
en ons aanjaag om betyds
vir die genadebrood op te daag
wat U sorgsaam vir ons uitgesit het.
Ons sal ons trommeldik
daaraan eet en tot in ewigheid
daarvan leef. Ons sal die oorvloed
raaksien en heimlik wonder oor hoe
op Gods aarde ons dít alles verdien het.

En só beweeg ons singend deur die poort na u teenwoordigheid.
Ons bevind ons lag-lag op die beste plek waarop ons ooit kon hoop.

En … dit was nog altyd so – dit is nie asof ons nou
op vreemde terrein is nie. Hierdie Goddelike trou kom
geslagte lank al aan – ons het die stories om dit te bewys.

Daar is boonop daardie ou liedjie – ál vier die versies –
wat vir ons aangegee is toe ons nog klein was en wat in u
trou en waarheid hul krag sal hou tot in die laaste nageslag:

Juig, al wat leef, juig voor die Heer!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: