Lees Efesiërs 2:1-10.
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (v 8).
Hier is een van dáárdie Bybelgedeeltes: tien verse, die hele evangelie! Jy moet hierdie deel van Paulus se brief in jou hart bewaar sodat jy dit altyd in jou kan hê. En as mense van ’n ander geloofsoortuiging jou sou vra wat Christene glo, kan jy dit uithaal en aan hulle gee en sê: Dit is wat ons glo – ons glo in Hóm.
Hierdie hand vol verse vertel God se storie met ons – van begin tot einde: Vers 1 herinner ons aan hoe dit vroeër met ons was, en vers 10 aan waarvoor God ons bestem het. En tussendeur word dié buitelyne ingevul in die helderste, opwindendste kleure denkbaar. In breë kwashale word ons roete – van sonde tot verlossing – duidelik gemaak, vir almal om te sien. En, dalk die belangrikste, ook vir onsself om behoorlik te onthou.
Hierdie tien verse is die kortste katkisasieboek waaruit jy ooit hersiening sal doen. Jy het tog klein-klein geleer God is “ryk in barmhartigheid en het ons innig lief ” (v 4). Daarom kan ons Paulus se oorstelpte uitroep van harte beaam: “Uit genade is julle gered!” (v 5). Ja, dat “genade” die Godswoord is, en “eie verdienste” die vloekwoord (v 8-9).
Hier staan ons dus met ons kosbare verlossingsdokument in ons hande. Prys die Here!
Wat daarvan as jy dit iewers gaan uitstal sodat almal dit kan sien? Wat van jou yskasdeur, of jou voordeur? Jou motor se buffer, jou profielfoto op sosiale media?
Of, straks beter, wat daarvan as jy dit uitleef, elke dag? Met elke glimlag en elke traan, elke juigkreet en elke pynlike sug? Dié allertroos dat jy aan God behoort omdat Hy jou vir Hom gevat het?
Here, Here! Halleluja!
Barend Vos