Kerkmense …

Lees Lukas 20:45–21:4.

Hy sien toe ook ’n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi (v 2).

Die teenstelling kon nie groter gewees het nie: die deftige skrifgeleerdes met hul spoggerige klere, teenoor die arm weduwee met die twee geldstukkies. En dan die skrikwekkende brokkie inligting aangaande die eersgenoemdes: “Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm …” (v 47).

Ook hierdie weduwee s’n? Hét sy hulle al ten prooi geval, of is sy in hierdie stadium bloot ’n teiken? Wie sal weet?

En wie sal ooit kan bereken hoeveel boosheid daar in die destydse tempels en sinagoges was? Lesers van die Jesusverhaal sal hul somme kan maak, en dit grond op al hul Here se uitsprake teen dié haglike situasie. Hulle sal die komplotte byreken wat einste daar gesmee is – dié waarvan ons wel weet – onder meer die sameswering om Jesus te vermoor (Luk 22:2). ’n Nare nes, niks minder nie.

Daarteenoor die prentjie van die arm weduwee. En, nee, ons verneem niks van haar motiewe nie. Ons weet nie wat in haar hart aangaan of met watter gesindheid sy haar offergawetjie bring nie. Ons weet bloot dat sy arm was, en haar geldelike bydrae bitter klein. Maar dié prentjie was helder genoeg vir Jesus. Hy kan twee en twee bymekaar tel en daarom verklap Hy: “… sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe” (v 4).

Het haar broodgeld straks die skrifgeleerdes se deftige klere gesubsidieer? Hoeveel boosheid leef daar regtig in die kerk?

Hoe ook al: Die teenstelling tussen Jesus se verwagtings en sy volgelinge se gewilligheid word hier duidelik onderstreep: ons wat bereid is om ’n bydrae te maak; Jesus wat ons “alles” vra.

Hier is ek, Here! En hier my deftige klere, my ydelheid, my grypsug. Verlos my!

Barend Vos