Kom terug na My!

Lees Joël 2:1-2, 12-17.

Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here … (v 13).

Gelowiges was nog altyd daarvan oortuig dat die Here met hulle praat en dat hulle na sy stem moet luister. Sy woorde kom op ver­skillende tye en op verskillende maniere na sy kinders toe. Soms is dit neergeskryf en word dit gelees, soms word dit bloot in hul hart gefluister sodat dit goed oordink kan word.

Die profeet Joël het God se stem in die natuur gehoor, in die uitmergelende droogte en die teistering van sprinkaanswerms. “Kom terug na die Here julle God toe …” sê die profeet (v 13). “Roep die volk op, reinig die gemeente … hulle moet sê: ‘Betoon medelye met u volk, Here …’” (v 16-17).

God se stem, hoe en waar en in watter omstandighede dit ook al gehoor word, vra altyd ’n reaksie. Dikwels is dit ’n dankie, mees­tal ’n asseblief. In swaar tye word daar soms ook ’n hoekom en ’n waarom uitgeskree.

Uit hierdie profeteverhaal blyk dit dat God nie in ’n oppervlak­kige reaksie belangstel nie. Nie in ’n voorgeskrewe ritueel vol drama en uiterlike vertoon nie. “Skeur julle harte, nie julle klere nie,” sê die profeet namens Hom.

En hier raak Joël aan ’n rou, rou senuwee: gelowiges se gewaan­de berou. Die “ek is jammer, Here” – waarna die emosie nie langer as ’n dag duur nie. Die “vergewe my, asseblief” – wat nie deur jou vergifnis van ander voorafgegaan word nie.

Hieruit is dit duidelik: Wanneer God se harde, waarskuwende, pleitende stem nie jou hart breek nie, het jy Hom nog nie ge­hoor nie.

Here, moet asseblief nie ophou om met my te praat nie. Al praat U ook hard …

Barend Vos