Kom terug!

Lees Jeremia 3:19-25.

Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil ’n einde maak aan julle afdwaling (v 22).

Spyt kom te laat.

Daar is mense wat dit vas glo en dan die kop meewarig skud en sê: Krý vir jou! Julle wou mos nie hoor nie – en daar het julle dit nou! Dit is gans te laat vir trane; vat nou maar die pak.

Daar is ook dié wat dit asseblief nie wil glo nie, wat bly vasklou aan elke greintjie hoop dat dit tog nie so is nie. Dat daar nóg ’n kans is. Hulle roep uit: Sê my net wat ek moet doen!

Die profeet het weinig twyfel: Daar is net een moontlikheid en dit is om terug te kom. Om die krokodiltrane, die selfbejammering, opsy te skuif. Om daadwerklik om te draai.

Vir Ou Israel, hoereerders met die afgode-op-die-heuwels, kom die boodskap klinkklaar. Smekend: “Kom terug, kinders …” (v 22). Hul antwoord klink so reg: “Ons wil in die aarde insink oor die skande, ons wil wegkruip van skaamte” (v 25). Sal Hy hulle hoor? Sal Hy hulle hierdie keer glo? Daar was immers soveel vorige kere? Omdraai vra ’n besluit – én die waar maak van daardie besluit.

Dít vereis ’n nuwe fokus. ’n Volgehoue wegkyk van die heuwels vol vlak verleiding. ’n Ongemaklike, moeilike krink van die nek en ’n opkyk na die berge, daar waar hul Hulp vandaan kom.

Nee, spyt kom nooit te laat nie. Nie by Hom wat ver kyk en dwarsdeur trane sien nie. Nie by Hom wat harte ken en weet wat werklike berou is nie.

U weet hoe lyk ek, Here. U sien my tot stilstand kom, U sien my omdraai. Hier kom ek, Here! Sal U my weer by U ontvang?

Barend Vos