Koninkrykswerk

Lees Markus 6:7-13.

“En as ’n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg” (v 11).

Die dissipels sou straks iets oor gasvryheid, en veral die gebrek daaraan, uit Jesus se ondervinding in Nasaret geleer het. Daarom het hulle vermoedelik aandagtig geluister toe Hy hulle twee-twee uitstuur om sy koninkrykswerk in ’n aantal plekke te gaan doen.

Moet niks saamvat nie, maan Hy hulle, reis lig. Koninkryks­werk is swaar genoeg. Om ander te probeer oortuig is nie ’n ligte­like saak nie.

Koninkrykswerk bring jou uiteraard in aanraking met mense. Sommige sal goed en gaaf wees, ander minder so. Soms sal hul gedrag iets met jou teenwoordigheid en optrede te doen hê, maar dikwels eerder met hul eie persepsies en opvattings en persoonlike geskiedenis.

Oor eersgenoemde het jy in ’n mate beheer, oor laasgenoemde geen. Mense, alle mense, het maar hul ou dingetjies …

Uiteindelik sou die dissipels se avontuur meer inhou as ’n studie oor menslike gedrag. Veel meer as ’n berekening van die graad van gasvryheid waarmee hulle ontvang is. Dit sou die hoorders se reaksie op die Jesusboodskap meet en ’n antwoord op daardie onontwykbare vraag afdwing: Wie, sê julle, is Ek?

Jesus het die dissipels die mag gegee om duiwels uit te dryf en siekes gesond te maak, en dit het hulle gedoen. Dit het sekerlik die beswaardes se gemoed en die siekes se seer verlig. Maar die koninkryksvraag bly: Het hulle geweet dit is Hý? Weet hulle dat Hy die Koning is? Sal hulle Hom glo?

Here, U vertrou ook vir my in u diens. Leer my gereeld die antwoord op u vrae.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: