Kyk tog mooi!

Lees 2 Korintiërs 8:8-15.

Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het (v 11).

Dit is al ’n ou storie dié: Maak klaar wat jy begin het! Ons het so iets reeds uit Jesus se mond gehoor toe Hy potensiële volgelinge gewaarsku het: Bereken eers die koste van jou volgelingskap! “Anders … sal (die mense) sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie’ ” (Luk 14:29-30).

In Paulus se brief aan die gemeente in Korinte was die verband effens anders, maar die beginsel identies: Jy rig baie skade aan deur iets halfpad te doen en dit dan te los. Moet dit dan liefs nie aanpak nie.

Oftewel: Goed begonne is half gewonne … en dán lê hef aan nog voor!

Dit is nie so maklik om jou aanvanklike ywer te behou nie, selfs nie vir ’n goeie saak nie. Almal wat al ’n projek aangepak en die entoesiastiese vrywilligers sien nader kom het, het baie van hulle weer sien vertrek. Tussen neus en oë sien verdwyn. Gesien hoe hul belangstelling, om geen duidelike rede nie, bloot gekwyn het.

Die skade is enorm. Aan jou eie reputasie, ja. Jy sal gespot word, het Jesus immers gesê (Luk 14:29). Maar jy doen ook skade aan die saak waaroor jy aanvanklik so gaande was, en aan die verwagtings wat jy by ander gewek het en wat toe nie verwesenlik is nie. Die grootste skade is waarskynlik aan jou susters en broers wat saam met jou gewerk het. Dit is húlle wat jy in die steek laat. Dit is tog logies: Iemand moet nou jou deel ook doen.

Here, uiteindelik berokken my kwynende entoesiasme u koninkryk groot skade. Rus my toe met nuwe krag, maak my weer lus om te dien.

Barend Vos