Kyk weg! Kyk mooi!

Lees Jesaja 58:1-12.

Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” (v 3).

Dit het deur al die eeue heen geblyk dat gelowiges nie altyd die menslike kloutjie by die Goddelike oor kon bring nie. Dat juis gelowiges, mense wat van beter moet weet, die minste van almal verstaan wat God van hulle verwag.

Hier stel Jesaja God aan die woord, sodat Hy Hom kan uitspreek teen dié eienaardige geneigdheid by sy ou volk. Hy sê: “Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag” (v 2).

Asof.

Maar dit is pure oëverblindery. Vrome bedrog. Hy sien dwars­deur hulle. Hy weet maar alte goed: “Hulle gee voor dat hulle … doen wat reg is …” (v 2). Hulle geesdriftige godsdiens – die vastye, die gebede, die nougesette verootmoediging – laat Hom net sy kop skud: “Is dit ál wat Ek … wil hê …?” (v 5).

Só sê die Here: Ware godsdiens het veel minder met jou te doen as wat jy dink. Trouens, dit is juis die klem op “ek, my en ons” wat godsdiens minder waar maak, en dikwels bloot onwaar.

Godsdiens wat waarlik ’n diens aan God is, trek jou oë weg van jouself af. Dit laat jou fokus op brose, weerlose mense. Dit is hulle wat naarstig wag dat jy toetree tot hul stryd. Hulle wat van jou ingryping in hul lewe afhanklik is.

Dus: Wat verwag God van hulle wat Hom aanbid? Eenvoudig: Kyk ’n slag weg van jouself. Kyk na hulle wat nie na hulleself kan kyk nie. Sorg vir hulle.

Here, wys my! Bring my hart in beroering, en maak my hande en voete los sodat ek my kan haas om te gaan help.

Barend Vos