Laaste asem

Lees Job 14:1-14.

“As ’n mens sterf, sal hy weer lewe?” (v 14).

Ag, die arme ou Job tog …

Swaar getref, seer geslaan, tot sterwens toe moeg. Boonop her­haaldelik deur sy slim vriende tereggewys en deur hul “ingeligt­heid” knaend in die beskuldigdebank geplaas. Wat was daar vir hom oor? Wie sou ’n tweede keer na hóm kyk?

Sy God. Sonder twyfel. Ten minste sou Hy na die arme man se moedelose, hooplose geprewel luister. “As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek …” (v 13). Ek sien nie meer kans nie. Die lewe het te veel geword. Die dood is ook te erg … “al die dae van my swaarkry …” (v 14).

Hoe bekend klink dit nie. Al hou ons ons sterk. Al gedra ons ons voorbeeldig. Al roem ons op geloof. Al leef ons asof ons ’n lang asem het, onvernietigbaar is. Job sê, sonder die moontlikheid van teenspraak: “Die mens … se lewe is kort en vol onrus” (v 1). Punt.

Ja, ou Job. Hoe ons hom ook al agter sy rug beskinder, hy hou meermale ’n spieël vir ons op. Hy daag ons uit om daarin na ons gestroopte self te kyk. Sonder die vrome maskers waarmee ons ander mense, en dikwels onsself, probeer bluf. Hy vra die vrae wat ons nie durf vra nie. Hy soek die hoop wat ons reken ons nie nodig het nie. Hy bevraagteken die geloof waarop ons so vas staan.

Hy praat met die God vir wie ons wegkruip. Hy ken die adres van die Een wat luister. By Hom soebat hy vir ’n tweede asem.

Here, U ken die doodsbenoudheid agter my glimlag. U gee lewe, U is my hoop.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: