Lang stories … en ’n kortverhaal

Lees Psalm 107:23-32.

Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom (v 30).

Die reddingsdade wat dankbare mense
die beste onthou, is dié waar U ’n storm
laat bedaar het. ’n Woeste wind sommer
stilgemaak of laat draai het en ’n beangste
bemanning verwonderd gelaat het. Matrose
met jare se sout in die baard sing lofliedere
in hul lang stories oor dié noue ontkoming.

Hulle sal later by nuwe vure straks bespiegel
of U nie dalk die storm gestuur het nét om
hul geloof te toets nie. Of U nie bloot
die geleentheid wou skep om hulle aan te spreek nie.
Om iets soos: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?”
bo die stormgeweld teen hulle te bulder nie.
Daar is mos op die ou end ’n Groter Doel …

Hoe sou ek, latere luisteraar, weet wat is nugtere
feite en hoeveel is vistermanstories? Wat sou dit
in elk geval saak maak wat ek dink of vermoed
of my verbeel, as daar mense is wat ná lange jare
steeds die wonderverhaal van hul redding vertel?
Heldeverhale met U as hoofkarakter raak immers
skaarser – vertellers is mos by voorkeur die held
in hul eie storie.

Daarom dank ek U sonder meer vir elke storm
wat U stilgemaak en elke goeie tuiskoms wat U
bewerkstellig het. Vir ál die kere dat U die inspirasie
is vir die verhale wat grootmense aangryp en klein
mensies met blink oë laat sê: “Ons God heet Veilige Hawe!”

Ja, Here, baie dankie vir hierdie stories. Ook my eie:
U ken mos mý kortverhaal – geen heldhaftigheid,
geen groot geloof, geen regte besluit, geen goeie geluk.

Net maar ’n getroue God,
sy vasvatgreep, sy lang asem.
En ’n halleluja-einde.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: