Leer luister!

Lees Jesaja 50:4-9a.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister (v 4).

Leerlinge luister, dit is wat hulle doen. Al moet hulle dit eers leer doen.

Ons word nie met hierdie vermoë gebore nie. Luister is ’n vaar­digheid wat aangeleer moet word. Daarom, sê die skrywer, doen die Here soveel moeite om hom dit te leer, sodat hy uiteindelik die regte woorde kan gebruik wanneer hy ander troos.

Dit is mos die doel van dié luistervaardigheid: dat jy ander doeltreffend kan bystaan omdat jy hulle noukeurig gehoor het. Dat jy nie dinge doen of sê wat, hoewel goed bedoel, meer skade aanrig as wat daar reeds is nie.

Kortom: Om goed te luister, is die voorwaarde wanneer jy ’n desperate mens probeer help.

Die Here leer ons ook luister, sodat ons Hóm goed kan hoor. Want ook dit is geen uitgemaakte saak nie. Klein-klein leer ons om “liewe Jesus” te sê, maar die vaardigheid om te hoor wat Hý sê, ontbreek soms lewenslank. Daarom al die buiksprekers, veral in kerke, wat met groot oortuiging vertel wat die Here vir hulle gesê het. En dan toekyk hoe hul vergesogte verkondiging geglo word.

Nee, ook om die Here goed te hoor, vra dissipline. Toewyding. Dikwels harde werk. Maar die voordele is onberekenbaar groot. Dit word jou alibi teen mense wat jou beskuldig, jou verweer teen hulle wat jou beskinder en bespot.

Gaan hoor maar eers by die Here wat Hy wil hê voordat jy praat of optree. Maak net doodseker dit is sý woorde waarop jy jou instel en nie die spookstem van jou eie begeertes nie.

Here, leer my die geduld om goed te luister, veral ook na U.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: