Leer my …

Lees Psalm 94:12-15.

Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord (v 12).

Here, ek het dikwels – altyd – ’n behoefte aan u stem.
Juis nou:
Dat U my sal leer, sal onderrig in u weë.
Dat ek die uitgemerkte padkaart
vir my lewe uit u hand sal ontvang.
Nooit meer nodig sal hê om my eie afleidings te maak
of ander se “ingeligte” menings aan te hoor,
of my op wilde raaiskote te verlaat nie.

Ek is wel daarvan bewus, Here,
dat om deur U onderrig te word
vanselfsprekend regstellings sal vereis.
En ek weet maar te goed dat dit pynlik is
om reggehelp te word. Soms is dit letterlik
“regruk”, selfs “wegruk”. Hardhandig
van die verkeerde pad verwyder.

Maar om in u hande te wees – selfs as U hard vat –
is duisend maal verkieslik bo die bewerige onsekerheid
en die noodwendige noodlottigheid van my eie keuses.
Die roete wat ek gewoonlik kies, loop knap by ’n afgrond verby
en stort dalk oor ’n krans. Leer my dus, Here, vir my eie beswil.
Al is u wil soms ’n ongemaklike waarheid. Leer my om U te vertrou
en my nie op mense se aanwysings te verlaat nie.
Om veral nie op my eie insigte staat te maak
en verlief te raak op “my” roete nie.

Dat ek kan rus kry vir my siel,
want ek weet wat u bedoeling is:
Om my vir U te behou;
U gee nooit u handewerk prys nie.

Gee my daarom ’n roetekaart in die hand
wat ek maklik kan ontsyfer:
U is my enigste bestemming,
my veilige reis, my rusplek.
Skaduboom
en padkos.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: