Lewensfeit

Lees Psalm 139:13-16.

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder (v 13).

Ja, Here, dit is ’n feit van die lewe
wat ek kleintyd al geleer is –
naas dié oor die bytjies en die blommetjies:
“Jy is die Here se kind!”
Dit was vroeg reeds ’n refrein, en is tot vandag toe nog
’n vashouplek teen vrees en onsekerheid;
’n vaste wete duskant ontnugtering en ongeloof.

Dié wete, Here, help my wanneer ek in ydele
én verydelende oomblikke voor die spieël staan
en wonder: Is daar darem iéts aan my wat na iets lyk?
Iets wat nie tot flenters sal vergaan
of tot verdere vernieling verdoem is nie?
Iets wat opsigtelik deur ’n hoër hand vervaardig is
en daarom deur die eienaarskepper daarvan onderhou sal word?
Is die verstand darem op sy kop?
Die hart steeds op die regte plek?
Hande en arms nog vaardig?
Voete en bene padwaardig?
Is alles nog in een stuk?

My Goddelike herkoms troos my wanneer ek bang
en weerloos in ’n spreekkamer sit. Voor ’n simpatieke
dokter wat my in die oë kyk en sy kop liggies skud en
begin planne maak vir drastiese mediese ingryping.
Omdat die tyd klaarblyklik aangebreek het
dat die wagters van die huis bewe, die sterk manne
waggel en die malers min geword het.
Wanneer die deure na die straat toegemaak word
en die geluide van die meul dof word en die voëltjies
se vroegoggendlied nie meer gehoor word nie.

Maar U, die baasbrein agter my bestaan, is steeds
met my op pad. Waarheen, weet ek nie aldag nie.
En wanneer ons daar sal aankom, nog minder.

Maar ek weet uit watter meesterhande ek kom.
En dit is vir eers genoeg.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: