Lied vir my lewe

Lees Psalm 119:49-56.

U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde (v 54).

Here, daar is mense wat sê dat u voorskrifte te streng is;
eintlik onhoudbaar in tye soos dié. Dit hoort by ’n vorige
bedeling, sê hulle. Toe gesag afgedwing is
en respek ’n gegewe was.

Ook ek praat soms só …
onnadenkend, ongenuanseerd, sonder verband.
Sonder verstand.

Want u wet was van die vroegste tye af
nooit bedoel om polisieman te speel nie.
U wou ons van altyd af bloot help om iets
van U te leer ken. Om U na behore te eer.
Om so opreg moontlik “dankie, Here” te kan sê.
Bowendien het dit onberekenbare voordele
vir ons lewe – hierdie reis waarop U ons begelei.
En waartydens U ons dikwels dra, met die roetekaart
in u hand: Groot geskryf sodat selfs ons dit behoorlik
kan sien én in staat gestel word om ook tussen die reëls
te kan lees. Ek onthou dit goed. Dit was nog altyd só.

Dit is seker daarom dat die woorde van u wet
van vroeg af gesing word, Here. En liedjies
wat ons kleintyd geleer het, gaan steek mos
iewers vas. Waarskynlik, kom ek deesdae agter,
word dit só gebêre vir latere gebruik.
Vir die noodsaak om die regte lof
op die regte tyd aan U te bring.
Ter wille van ’n grondiger kennis van u wil.
En ’n dieper dankbaarheid vir u sorg.

Daarom, Here, snoer my mond
wanneer ek argeloos wil saampraat.
Leer my, dag en nag, die lied vir my lewe.
Gee my dan die regte noot, en die regte tyd,
dat ek die ou, ou liedjies weer kan aanhef.
En só u wet beter onthou, verantwoordeliker oordra
en eenvoudig verstaan.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: