Liedere uit u wêreld

Lees Psalm 98.

Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! (v 4).

Die liedere wat ons oor U sing, Here
– oud of nuut – weerklink hopelik
tot in die uithoeke van die aarde.
Ons wil seker maak dat álmal dit hoor;
die hele wêreld moet daarvan kennis neem –
dit dra die beste boodskap;
dit jubel oor die skepping uit:
God verlos!

Ja, Here, U verlos mense en volke en nasies
van hulleself. U leer ons hoe om vrygemaak te leef;
om vryheid te proe sodat ons dit met vreugde kan deel.
U laat ons die soet smaak van u geregtigheid geniet;
ons hoef nooit weer tevrede te wees met die bitter pil
van menslike beoordeling nie. U maak ons lewe ’n lied.

Ons hoor ’n koninklike concerto vir lier en trompet
met dié verfrissende, loflike begeleiding:
Die see en sy swemmers en alles wat onderwater
vir U wuif, vol jubelende blydskap oor u troue liefde.
Die riviere wat in spontane applous losbars
oor Hom wat die stroomversnellings
én die stille waters gegee het.
Die berge wat hul bewondering van krans
tot krans en tussen klowe deur laat eggo.

U skepsels aanbid U, Here.
Hoor hul lied!

Ons eer U vir die erfenis
wat U ons laat toekom het.
Ons soen die grond
waarop U ons laat loop.

Ons seën ons medestoftrappers
met dié lied: “Juig, o ganse aarde!”
Amen.

Barend Vos