Lees Genesis 2:18-24.
Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek” (v 23).
Die Here God het gesê dit is nie goed vir die mens om alleen te wees nie, en toe maak Hy vir die mens ’n maat.
Só lui een van die Christendom se heel vroegste oortuigings. Tereg so, want dit is presies wat ons in die skeppingsverhaal lees. Ons hoor ook die liedjie wat die mens oor sy maat sing toe hy haar sien: “Hierdie keer!”
Daar was eers ’n langerige aanloop – die bome, die plante, die diere – maar toe, oplaas, kom die maat. En die oorstelpte dankbaarheid: Hierdie keer is dit my beurt!
Só lui die ou-ou verhaal, en dit sou deur die eeue heen deur miljuisende mense in hul onderskeie verhale geleef word, elk met ’n eie beklemtoning en ’n unieke aksent. Dié soort storie sou boonop gou sy eie naam kry: liefdesverhaal. Tot vandag toe.
’n Liefdesverhaal is helaas nie ’n sprokie nie. Daar is nie sonder meer ’n gelukkige einde nie. Die vrou is nie altyd ’n beeldskone prinses nie en die man nie noodwendig ’n ridder op ’n wit perd nie. Gelukkig is daar darem nie gereeld ’n nare stiefma in die prentjie nie; hoogstens ’n interessante skoonma. Daar is wel ook booshede wat in die bos skuil en wat gereeld verslaan moet word.
In die liefdesverhale wat die Here God van die begin af aan ’t skryf is, hoef jy jou nie die liefde te verbeel nie. Gelukkig word dit aan die karakters gegee. Uit die staanspoor druk Hy hulle dit op die hart.
Ja, hier by die ribbekas rond roer die ekstase wat hulle laat uitroep: Hoera, Here God, vir hiérdie keer!
O, hoe loof ek U vir u voorsienigheid! Prys die Heer vir my maat!
Barend Vos