Ligmaker

Lees 2 Korintiërs 4:5-7.

God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn (v 6).

Niks minder nie as ’n skat, sê Paulus. Die lig wat God aangesteek het, wat soveel heerlikheid uitstraal. Kosbaar, ja, en werd om goed opgepas te word. Ten minste in ’n hemelse kluis, met ’n leërskare engele om dit te bewaak.

Toe nié. God het dit dan in ons hart aangesteek, ons verrader­like hart. Hy het dit goedgedink om dit aan ons diepste binneste toe te vertrou. Óns s’n.

Hoe vreemd!

Ja, sug Paulus, hierdie “kluis” is so broos soos ’n kleipot. Nooit kan die oppassers hulleself op die skouer klop en sê “welgedaan!” nie. Die skat is aan bedenklike bewaring uitgelewer. En niemand minder nie as God self het dit uitdruklik so gewil. Dit was nie ’n vergissing nie.

Daarom sal dit ons, die uitverkorenes, die broses, baat om ’n oomblik na te dink oor die implikasies van dit alles. Oor broos­heid, ons s’n. Oor kleipotte, ons self. En oor hoe geleidelik, selfs ongemerk, ’n kleipot begin breek: eers ’n krakie hier, dan ’n stukkie nerfaf daar. ’n Las, ’n bars.

Is dit dan die begin van die einde? Wanneer breek die oomblik aan dat God sy kosbare skat uit hierdie kleipot verwyder? Wan­neer sal Hy sy lig wegneem en op ’n beter plek gaan bewaar?

Of soek ons sy oë op die verkeerde plek? Is dit dan nie Hy wat glimlag wanneer sy lig deur die kleipot se krake skyn nie? Wat tevrede toekyk hoe die krake groter word nie? Hoe helder, hoe fors, die lig, sy lig, daardeur bars nie?

Hier is ek in my broosheid, Here! Vir weinig meer tot nut, net vir U en u lig.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: