Loflied!

Lees Psalm 145.

Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde (v 8).

Wat ’n loflied! En wat ’n geskenk is dit nie in ’n tyd soos dié nie.

Ja, soms wil jy bloot dankie sê. Kom jy opnuut onder die indruk van jou ontelbare seëninge. Sien en hoor jy van ander se ellende, en dan gaan jou hart na hulle uit.

En dit blom óóp in jou diepste binneste en jy wil uitroep: “Die Here is groot, alle lof kom Hom toe …” (v 3). Nee, hierdie keer wil jy niks vra nie. Jy skaam jou vir al jou klagtes. Jy wil bloot “halleluja!” sê.

As jou woorde egter opraak of jou gemoed te vol is, dan help hierdie psalm baie. Ook as jy nie gewoond is aan dergelike jubelende gebede nie.

Hier hoor jy (of word jou vermoede bevestig) dat die Here se goedheid van lankal af kom. Van vér af. Dat die geslagte voor jou al daarvan geweet en daaroor gejubel het. Dat dit vir almal wat na Hom kyk vir hul volgende maaltyd, ’n troos is dat Hy hulle raaksien (v 15) en dat Hy sy hand vir hulle oopmaak en oorvloedig gee (v 16). Dat sy kinders se nood nie by Hom verbygaan nie. Dat Hy naby hulle én hul nood is (v 18-19).

Daarom, dankbare mens, lees hierdie psalm hardop. Doen dit weer en weer. Laat hierdie ou, ou woorde nuut word in jou gemoed. Pas die destydse besonderhede aan by jou eie gewaarwordinge. Laat die psalmdigter se “ek” gerus jou eie “ek” word.

En laat sy digterlike vryheid ook jou emosies loslaat. Lag saam met hom. Waag dit om deur sy entoesiasme oorrompel te word. Werklike lof laat hom mos nie voorskryf nie, en dankbaarheid hoef tog nie brieke te hê nie.

Here, hoor my: Halleluja! Halleluja! Halleluja!

Barend Vos