Loflied

Lees Psalm 103.

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie (v 2).

Die woorde in hierdie geliefde lofpsalm vloei soos ’n helder stroom oor gladde klippe. Die een sin loop in die ander een in, sodat dit uiteindelik een magtige rivier word wat uitmond in dié uitroep: “Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers!” (v 22).

Almal, oral. Dít is inderdaad die latere leser se gewaarwording: Die digter se belewenis verklank iets van myne, dit voel kompleet asof ek dit maar kan nasê. Dit is asof dit vir mý geskryf is. Vir my, die sieke, die sondaar, die sterflike. Die een wat weet hoeveel liefde en ontferming ek nodig het, hoe ek reg en geregtigheid begeer. Hoe barmhartigheid, genade, lankmoedigheid en liefde my aan die lewe hou.

Dit alles, sê hy, is die Here se werk, dit is wat Hy doen. Daarom dié klinkende loflied.

Ek, ja, ook ék, wil die Here loof!

Dit is net dat ek soms vergeet. Dat midde-in ’n krisis of ná ’n groot teleurstelling my loflied verstom. Ek vergeet die woorde wat eens so gemaklik uit my mond gevloei het. Soms gebeur daar iets wat straks nóg erger is: Ek vervang die lofwoorde met skelwoorde. Lof en laster uit dieselfde mond …

Dan, iewers op ’n beter dag, wanneer ek my begin skaam vir my praterigheid, dring dit weer tot my deur: Hy verwyt ons nie vir ons menslikheid nie, Hy wreek Hom nie op ons ondankbaarheid nie. Soos ’n pa wat sy skreeuende kind nader trek en troos, so tel Hy ook vir my op en sê: Kom ons praat hieroor.

U weet wie ek is en hoe ek maak. Nogtans noem U my “my kind”. Ek loof U!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: