Lofprysing?

Lees weer Psalm 33:1-15.

Jubel in die Here, regverdiges, sing ’n loflied, opregtes! (v 1).

Here, u grenslose Goddelikheid word nie sommer
met ’n do-re-mi besing nie.
Daarvoor is dit te omvangryk.
Die heelal self sal dit na waarde moet besing –
en hoe gaan dít gebeur?

Ons, mense, probeer intussen stamelend woorde vind
om wel iets oor u grootheid te sê.
Ons voeg ’n ontoereikende wysie daarby
en noem dit “lofprysing”.
Maar tevergeefs soek ons woorde wat met “ontsagwekkend”
of “onbeskryflik” of “nimmereindigend” rym.
En stuit uiteindelik op ’n gebrekkige woordeskat.
Boonop, stel ons vas, is daar net sóveel akkoorde
wat jy uit ’n musiekinstrument kan voortbring.
Nee, noot vir noot skiet ons tekort.

Gelukkig, lyk dit my, kan enigeen U loof;
nie net die musikaal begaafdes nie.
Húlle kan sekuur speel en suiwer sing.
Terwyl ons, in hul skadu, bloot hoef bly te wees.

Ja, ek ís bly, Here, al is ek nie nootvas nie.
Ek loof U, al is dit nie met die tromme nie.
Al ken ek nie ’n harp nie en al is klinkende
simbale nie eintlik vir my mooi nie.
Maar U sien ver genoeg om te weet
dat my loflied uit ’n diepe vreugde voortkom.
Eintlik is “respek” ’n beter woord, of “eerbied” –
want kýk net die naghemel! En die see;
ag, Here, die see …

Geleerdes vertel dat dink, sê en doen by U dieselfde is –
en dit laat my kop duisel. Dit maak my stom;
dit het my skoon van my wysie af.

O Here, ons Here: Om U na behore te loof
is ’n onmenslike opdrag!
Amen.

Barend Vos