Maak my slim!

Lees Psalm 119:97-104.

Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer (v 102).

Om u wet lief te hê, Here, sal my slimmer
as almal maak. As hulle my dan as “wetgeleerd!”
uitkryt, is dit niks minder nie as ’n kinderagtige
uitweg. Slegs dié wat sonder ontsag vir U
en u voorskrifte leef, sal so iets wil sê.

Want om wetteloos te leef
is tog sonder meer daaraan gelyk
om liefdeloos deur die wêreld te gaan.
Dáár lê immers die sagte hart van u wet:
die omvattende liefde vir U en vir ’n medemens.

Ag, Here, en U ken my ewigdurende stryd om afskeid
te neem van harde selfliefde wat nooit ruimte
vir ’n ander het nie; en beslis nie vir U nie.
U is immers besig om my te oortuig van die deugde
van opreg liefhê. Om my hart stukkie vir stukkie
in te palm. Totdat U uiteindelik alles in besit geneem het
en ek dan in goeie hande is. U wyse hande, wat my gaandeweg
touwys maak en leer wat ek nodig het om te verstaan.

Sodat ek in dié wêreld kan leef en laat leef.
Wýs leef.
Straatslim.

Om koers te hou en uit te hou.
En veral om vas te hou aan hulle
wat my greep nodig het: Dié wat
minder het as ek en straks nóg
minder van liefhê weet as ek.

Saam sal ons dan op U wag,
ek en die geliefdes.
Ons sal wag op u woord
wat ons op die regte tyd sal bereik.
Van heuning sal dit drup en suikersoet
sal dit tuiskom in ons hart.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: