Mens-tussen-mense

Lees Psalm 116:9-11.

Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my (v 10).

Ag, Here, die lewe se nimmereindigende op-en-af
druk my soms so neer dat ek nie kan asem kry nie.
Daar is weinig wat onveranderlik is. Wat voorspelbaar
genoeg is dat jy daarop kan peil trek. Ek raai dus maar,
en hoop teen hoop.

Ek loop my telkens vas teen voorlopigheid.
Ek sê: “Omstandighede buite my beheer,” en haal
my skouers op. En weet dit is die helfte van die waarheid.

Ek is dikwels (meestal?) die oorsaak van my moeilikheid.
My eie grootste vyand. Ek gaan sit so graag met die hande
in die hare, bedruk en beswaard, en kla: “Alles is teen my”;
almal span teen my saam!” Ek druk myself oor die afgrond
van selfbejammering, soos dit maar is met ’n mens wat perspektief
prysgee. Want perspektief, Here, is die uitsig op U – en wanneer ons
dít verloor, bly bloot “die omstandighede” oor. Immer buite ons beheer.

Vergewe my daarom my vinnige verontskuldigings,
my oorhaastige oordele en die mislees van my situasie.
Die “skrif aan die muur” waarna ek so graag verwys,
is maar net graffiti wat ek self daar aangebring het.
Ek is die boekhouer van my eie kwaad.

Gee my tog rus van myself, Here!
Verskuif my vasgenaelde blik op my ontevrede hart
na u verkwikkende nabyheid. Maak my weer ’n waardige,
trotse inwoner van die land van die lewendes;
’n dankbare onderdaan van u koninkryk.
Soekend na u wil vir my lewe én vir hulle
wat u troosvolle genade met my deel.

Maak my ’n mens-tussen-mense.
Maak my ’n kenner van kindwees voor U.
Hou my afhanklik. Vol lag.
Altyd bereid om op te tel
en gereed om opgetel te word.
Amen.

Barend Vos