Mense wat betrokke is

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word …” (Matteus 6:9-10).

In 1974 het verteenwoordigers van kerke uit meer as 150 nasies by die internasionale kongres oor wêreldevangelisasie in Lausanne ’n “verbond” met mekaar aangegaan. Hulle het erken dat ons van God ’n roeping ontvang het “om sy dienaars en getuies vir die uitbreiding van sy koninkryk, vir die opbou van Christus se liggaam en vir die verheerliking van sy Naam te wees”. En dan kom die belydenis: “Ons bely met skaamte dat ons dikwels hierdie roeping verloën het en in ons sending misluk het, omdat ons aan die wêreld gelykvormig geword het, of ons daaraan onttrek het.”

Dis hierdie laaste woorde wat my opval: “omdat ons aan die wêreld gelykvormig geword het, of ons daaraan onttrek het.”

Heiligheid is nie wat ons dink nie. Natuurlik beteken dit dat ons anders is. Ons is nie soos die wêreld nie. Dit beteken egter ook nie onbetrokkenheid by en onttrekking van die wêreld nie. Ons vertaal heiligheid dikwels met “afsondering”, maar dit, sê Ferdinand Deist, is nie reg nie. Heilig het nog nooit “eenkant” beteken nie. Deist verwys dan na die heiligheid van God in Jesaja 6, wat so stralend is dat die hemelwesens dit nie kon aanskou nie. “As God sê ons moet heilig wees soos Hy heilig is, beteken dit die nuwe lewe wat Hy ons gegee het, moet sigbaar word vir almal om te sien. Die nuwe lewe in ons moet soos ’n lig vanuit ons uitstraal.”

Die heilige God staan nie eenkant nie. Deur sy Seun raak Hy by ons betrokke, maak Hy sy hande en voete vuil met die stof en probleme van hierdie wêreld. Net so word Christene opgeroep om opsigtelik heilig te leef. JR Michaels skryf dat heiligheid die dag tot dag optrede van Christene altyd en oral moet kenmerk. Ons daaglikse lewe van liefde, sorg, diens en toewyding gee hieraan uitdrukking. Heiligheid is betrokkenheid.

JP Versteeg verwys in ’n meditasie oor die begrip “heilig” na Sint Nikolaas (die Heilige Nicolaas = Sinterklaas). Hierdie man van Mira wat in die vierde eeu geleef het, het bekendheid verwerf vir sy uitsonderlike liefde en goeie dade teenoor die minderbevoorregtes. Op 5 Desember elke jaar vier mense in Europa Sint Nikolaas-dag. Hulle gee geskenke vir mekaar om hulleself en ander aan goeie dade en liefde herinner te word.

Ons voel dikwels ongemaklik daaroor, maar tog noem die Bybel ons heiliges (1 Kor 1:2). Dit is dis ’n titel wat God self aan ons gegee het. Maar, net soos Sinterklaas sy heiligheid verstaan het as toewyding aan die wêreld, word ons geroep om dieselfde te doen. Ons moet mekaar en ander van harte en vurig liefhê, en dit wýs.

Here, ek is jammer dat ek soms u opdrag om heilig te wees verkeerd verstaan. Help my om nie skynheilig te probeer wees of om my van die wêreld te onttrek nie, maar om met toewyding uitsonderlike liefde, sorg en diens aan ander te bewys, sodat ek u lig op aarde kan weerkaats. Amen.