Moets en moenies

Lees Romeine 7:1-6.

Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God (v 4).

Dit is nogal iets vir gelowiges uit alle geslagte om te weet: Die ou bedeling se soort diens is verby; in die nuwe bedeling is die diens anders. In die ou bedeling, skryf Paulus, “het ons vrugte gedra in diens van die dood” (v 5). “Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees” (v 6).

Terneerdrukkend en doods, teenoor opgewek en nuut. Wat ’n vreugde is hierdie huidige bedeling tog!

En, nee, dit is nie juis nuus nie; dit is ou nuus. Die ou-ou tyding, die boodskap van God se heil: Toe Jesus gekom het, het alles verander. Radikaal. Die nuwe bedeling wat só aangebreek het, het niks minder gedoen nie as om die gelowiges van die ou bedeling te bevry. Jesus heet immers ook “Verlosser”.

Deur die eeue het dankbare gelowiges hierdie verlossing gereeld gevier. Christus se kerk maak ruim voorsiening vir dié soort viering – deur te sing en te bid, deur te eet en te drink. Deur mens te wees voor God se aangesig, volledig, verlos. En ons weet mos baie goed – prys Hom daarvoor! – waarvan ons verlos is.

Paulus help ons nou ook om te leer waartoe ons verlos is. Hoe die nuwe bedeling in verlostes se lewe moet lyk. Ja, “moet” (v 4).

Dit is, aldus dié apostel-van-genade, ’n móét dat ons lewe vrugbaar verloop, in God se diens. Ons moenie toelaat dat ons vreugdefeeste ons tot ’n passiewe laat-maar-loop-houding verlei nie. Daar is wérk.

Werklike godsdiens is tog ’n diens. ’n Dankbaarheidsdiens, ja, maar uit beginsel een wat met opgerolde moue moet plaasvind. Met ’n dankbare hart wat voortdurend moet vra: “Wat wil U hê moet ek doen, Here?”

Hier is ek, Here, u verloste kind. Stuur my, wys my, gee my u opdragte.

Barend Vos