Murmureer

Lees Psalm 105:23-45.

Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom en sy volk met brood uit die hemel versadig (v 40).

Here, die ou verhaal oor Moses en Aäron
het my, klein kind, groot woorde geleer:

“Murmureer” onthou ek goed.
Die ou volk wat oor alles gekla het –
te min, te veel, te ver, te warm,
hier te kort en daar te lank.
Nooit tevrede nie.

“Plae” was nóg een – gelukkig met maklike prentjies
daarby: paddas en muggies, hael en sprinkane.
En daardie verskriklike een by dié loodswaar
woord: “eersgeborenes”. “Pasga” was ’n bloedbevlekte ete …

Al hierdie woorde en prentjies het ’n boek vol stories
gemaak oor ’n ou volk in ’n vreemde “farao”-land, ’n “slawehuis”.
En van hul eensame voorloper –
navolger van ’n “wolkkolom”, gewer van “manna”
en “kwartels”, rotsbreker met ’n “staf”, bringer van “gebooie”.

Maar, Here, selfs ’n kind kon deur dié doolhof
sy pad na “die weë van die Here” oopluister.
En oor die bestemming sou daar nooit twyfel
bestaan nie – al was “die land Kanaän” ’n hele mondvol.

Ná nóg ’n veertig jaar kom die vertroudheid van dit alles
nou goed te pas: die woestyntrek as metafoor vir die lewe;
oggend- en aandkos dié van God se oorvloedige sorg.
Moses sou met verloop van tyd vele gestaltes aanneem,
maar altyd ’n bevryder uit benouende omstandighede bly.

En een ding sal, so lyk dit my, nooit verander nie:
Ons sal bly kla, Here. Hoe jy dit ook al teken
en met watter woord dit ook al gesê word,
en of dié nou uit een lettergreep of drie bestaan:
Ons sal, witbrood onder die arm,
sonder ophou,
murmureer.
Amen.

Barend Vos