“My God, my God …?”

Lees Psalm 22:1-15.

U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder (v 10).

Die wysie waarop hierdie psalm gesing moet word, só lui die aan­duiding aan die begin, is: “Die wildsbok van die daeraad”.

Ek sou wat wou gee om dié melodie te kon hoor. Dit moet ’n desperate klaagsang gewees het, ’n treurlied soos min. Hoe anders tog met lirieke wat só begin: “My God, my God, waarom het U my verlaat …?” (v 2).

Maar hoe sing ’n mens dié woorde? Jy kan tog nie anders as om dit uit te skreeu nie? Om jou oë na die hemel te wend, jou hande in vuiste te bal, te gil: “My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags” (v 3).

Die onverklaarbaarheid van dié afwesigheid, hierdie Godstilte, is die feit dat dit nog altyd anders was: Die voorvaders het vertel dat God altyd gereed was om hulle te help. Wat het dan nou skeefgeloop?

Hoor net hoe spot almal! Volksgenoot én vyand dink dit is tog te snaaks: Hoor daardie wurm wat so skreeu!

Dit is geen wonder dat hierdie desperate mens hom in die fetus­posisie terugtrek nie. Dat hy later teen sy moeder se bors leun nie. Waar anders is daar troos vir hom?

Dit is dan ook daar, te midde van dié koesterende genade, dat hy onthou hoe sake nog altyd verloop het: Die groot Verloskun­dige was destyds reeds aan diens. En Hy het nooit gaan sluimer of slaap nie.

Hy sal hulle wat die eerste lewenslig aan Hom te danke het, nooit in die steek laat nie. Hulle is sy handewerk wat Hy nooit laat vaar nie.

My God, my God, deur die eeue roep u kinders só na U. Hoor tog ook vir my!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: